BOELIE - fb

BOELIE

As ons aan die woord boelie dink, kom die prentjie van’n groot lummel in die meeste mense se gedagtes op. Daar is egter talle ander soorte boelies waaronder die volgende ‘n paar voorbeelde is, nl., die verbale boelie, die fisiese boelie die emosionele boelie, die kuberboelie en die verhoudingsboelie. Die onopsigtelike soort geboelie gaan heel dikwels ongemerk onder ons neuse aan. Die boelie is nie noodwendig net ‘n gemene kind nie, maar kan ook ‘n ouer, ‘n familielid, en selfs ook ‘n onderwyser wees.

Om te boelie is ‘n aangeleerde gedrag. Dit kan van die ouervoorbeeld nageboots word, van ‘n onderwyser met baie invloed, of van ‘n ouer kind wat soos die held mag voorkom – veral vir die kind wat dalk smag na ‘n rolmodel in sy/haar lewe . Kinders boots slegs na wat hul sien en hoor. Gesinne kan dus boelies kweek, terwyl die media ook ‘n baie belangrike rol speel in die aanleer van sulke gedrag deur beriggewing wat ons kinders desensitiseer en daardeur geweld al minder na ‘n verkeerde opsie laat lyk.

Ons as ouers en ander belangrike rolspelers in ‘n kind se lewe moet onsself sekere vrae afvra: Wat leer ‘n kind wat moet toekyk dat konflikhantering gepaard gaan met ‘n gevloek en ‘n geskel en/of selfs fisiese geweld? Boelie ek my eggenoot/eggenote omdat iemand my geboelie het – en so gaan die soort familiegedrag voort? Hang die kleed om jou skouers om hierdie patroon te breek.

Dit verg ‘n baie brawe persoon om te erken dat hy/sy ‘n probleem het en om hulp aan te klop. Om vir jou kinders se onthalwe hulp te gaan soek, want dit is nie die mens wat jy wil wees of wil hê jou kinders moet word nie, is die regte ding om te doen!

Ek doen ‘n baie dringende beroep op ouers om tot die besef te kom dat ons nie een soort gedrag by die werk kan hê en ‘n ander by die huis nie. Tuis wil ek vloek en skel en afkraak, maar ek wil my kinders dissiplineer vir dieselfde gedrag? Dis nie aanvaarbaar nie! Let op hoe jy met jou mense in die huis praat. Hoeveel ouers sê vir hul kinders: “Jy praat nie so met my nie mannetjie?” Maar waar het die kind dit geleer? Dink hieraan: lok ek as ouer my kind by die huis dalk uit om opstandig te raak en dan sy/haar woede op iemand by die skool uit te haal? ‘n Aanhoudende tergery kan afbrekende gevolge hê. Skynheilige gedrag is dinge wat frustrasie by kinders kan veroorsaak en hul respek vir ‘n ouer beïnvloed. Dis belangrik dat ons weet dat om ‘n kind te leer om respek te toon teenoor hul medemens beteken ons moet self eers ons kinders se respek wen. Respek word nie met vrees afgedwing nie – vrees veroorsaak slegs frustrasie en opgekropte aggressie wat sal oorvloei na ander areas van hul funksionering.

 

Die kind wat geboelie word:

Die kind wat geboelie word, leer inderwaarheid oorlewingstrategieë aan in plaas van sosiale vaardighede. Wat kan ek doen om my kind te bemagtig?

In die tye waarin ons leef is dit uiters belangrik dat ons oop verhoudings met ons kinders moet voorstaan. Selfs as jou kind die boelie is moet hy/sy na jou toe kan kom en sê, “Mamma/Pappa, ek het iets lelik met ‘n maat gedoen vandag omdat ek jaloers was.” OF is jou kind te bang om vir jou te kom sê as hy/sy ‘n fout begaan het? “My ma/pa gaan my so slaan as ek moet bieg dat ek ‘n maatjie seergemaak het vandag by die skool en kantoor toe moes gaan daaroor. Daarom bly ek liewer stil en/of jok daaroor.”

Ons moet toeganglik wees vir ons kinders. Die dag as jou kind onder groepsdruk geswig het en berou toon omdat hy/sy saam met ‘n groep ‘n ander leerder afgekraak het, moet hy/sy die vrymoedigheid hê om te kom sê: “Mamma/Pappa, ek het vandag iets gedoen waaroor ek sleg voel want dis nie eintlik hoe ek wil wees nie.”

Daar is ‘n baie belangrike verskil tussen straf en dissipline. Kweek die straf wat jy uitdeel vrees – of leer jou kind iets daaruit? Is pappa in die huis mans genoeg om jammer te sê as hy ‘n oordeelsfout gemaak het en lelik met mamma gepraat het? Is ons pappa’s mans genoeg om nie saam met die manne te vloek? Is ons mamma’s sterk genoeg om nie saam met vriendinne te skinder oor ‘n ander vrou ten aanhore van ons kinders nie? Is ons as ouers dapper genoeg om ons eie foute te erken en die stryd te stry om die regte voorbeeld te wees?

Dis nie slegs die oorgewig en skaam kind – of soos graag in flieks uitgebeeld word die arme sproetgesig-met-draadjies–en-‘n- bril kind wat geboelie word nie. Dit is dikwels ook die talentvolle of gegoede kind wat geboelie en geintimideer word.

Hoe weet ek as my kind geboelie word?

Tekens om voor op te let mag onder andere die volgende wees:

  • Weier om skool toe te gaan;
  • Nie geinteresseerd in enige skool aktiwiteite nie;
  • Onttrek homself/haarself;
  • Hartseer/bang na telefoonoproepe; (Wanneer u besluit dat u kind ‘n selfoon mag besit, is dit belangrik vir die kind om te weet dis ‘n voorreg wat gepaard gaan met verantwoordelikheid; En dit bly steeds u as ouer se prerogatief en verantwoordelikheid – en plig! – om gereeld die kind se foon na te gaan . Hierdie reel behoort ingestel en oor ooreengekom te word alvorens die kind die foon in besit neem. Gepaardgaande reels moet neergelê word en u kind moet verstaan dat u van hom of haar verwag om daardie reëls te gehoorsaam om die voorreg te bly geniet.)
  • Praat nooit oor maats of skoolaktiwiteite nie;
  • Gebruik afkrakende taal wanneer oor ander kinders gepraat word;
  • Psigosomatiese simptome soos uitputting, maagpyn, hoofpyn;
  • Slapeloosheid, of wil meer slaap as ontvlugting;
  • As u kind al bietjie ouer is kan u oplet na die tipe opstelle wat hy/sy skryf.

 

Die voorbeeld wat ons as ouers stel, dra die swaarste gewig. Ons moet eienaarskap neem van ons eie gedrag. Ons moet ons kinders leer om nie deur emosies beheer te word nie, maar dat ons kan kies hoe ons wil optree. Om dit te kan doen moet hul ’n goeie grondslag en begrip (en voorbeeld!) hê van wat reg en verkeerd is.

Die stelsel:

Dit is ongelukkig so dat dit ook gebeur. Hoeveel keer hoor ons by ons kind dat hy/sy vir juffrou gaan sê het en toe sê sy ek moet gaan sit en ophou stories aandra.

Ons moet ook net noem dat eenmalige insidente nie as boelie gesien behoort te word nie, aangesien kinders nog studente van die lewe is en daar darem spasie vir foute gelaat behoort te word. Daar is wel kinders en ouers wat oor-analiseer en elke insident kan opblaas.

Onderwysers sit ook met groot klasse leerders en kan sekerlik nie elke dag duisende stories aanhoor nie. Daar is ook ongelukkig insidente waar die onderwyser deel uitmaak van die probleem. Wanneer u u kind gaan inskryf by ‘n skool maak seker oor hul boelie-beleid sodat u vertroud kan wees met korrekte kanale om te volg en maak seker dat u kind weet u is sy/haar vangnet en dat indien nodig u die nodige stappe sal neem om hulle te beskerm teen grootmense wat hulle soos kinders gedra.

Wat as my kind die boelie is?

Indien u sukkel met ‘n kind wat boelie en u sien dat dissipline van watter aard ookal nie help nie, is dit die teken om u kind te laat evalueer deur ‘n professionele terapeut en/of mediese arts.

Sommige kinders word soms verkeerdelik gebrandmerk en benadeel omdat daar dalk ‘n impulsbeheer-probleem mag wees of ‘n ander vorm van sielkundige ongemak. Moenie u kind verder afbreek deur aanhoudend te straf en uself moeg en moedeloos maak nie, terwyl daar wel mense is wat kan help en medikasie vir die probleem beskikbaar is.

Kry hulp by mense wat meer weet as u! Dis die regte ding om te doen!

 

Artikel deur Cedar Joubert

Registered Psychological Counsellor (Pastoral)

Boelie – Artikel deur Cedar Joubert
Facebooktwitterpinterest

Facebooktwitterpinterestinstagram

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Follow us on FacebookFollow us on FacebookFollow us on FacebookFollow us on Facebook